Dinsdag 16 Julie 2013

'n Kortverhaal wat ek op 21 geskryf het



Crayola washables ook vir my seun
Geskryf deur Marelize Erasmus

“Ek wil hê julle moet vir my ʼn monster teken,” juffrou Erasmus kyk met groot oë na haar graad 5 klas, “maar nie sommer enige monster nie.  Hierdie monster moet gemaak word uit verskillende dele van ander diere en enige iets anders wat julle aan kan dink. Gebruik julle verbeelding!”
Die graad vyfies kyk met groot oë na hulle juffrou.  Juffrou het uiteindelik na my idee geluister wat ek aan die begin van die jaar in die idees-boks gegooi het, jipee!  Eugene is ʼn oulike, slim en baie eiewyse seunskind.  Hy het wilde swart hare soos sy pa...jy weet voordat hy grys geword het, sy ogies kan enige grootmens se hart laat vermurwe.  Eugene is baie lief daarvoor om te teken, vandat hy kan onthou teken hy al.  Sy pa het vir hom sy eerste vetkryte op 3 jarige ouderdom gegee.  Kort daarna moes hy uitvind dat hy nie op die eetkamer muur mag teken nie, sy ma was bietjie kwaad, maar net vir ʼn rukkie.  Sy pa het vir sy klein kunstenaartjie ʼn foto raam uitmekaar gehaal en daardie prentjie geraam, net daar op die muur.  Hy het nou nog daardie raam met ʼn foto van die prentjie wat hy destyds geteken het.  Vandag is sy kans om vir sy juffrou te wys dat hy nie net mooi kan teken nie, maar ook dat hy kreatief kan dink.
“Hy Eugene, aarde na Eugene, was jy al weer in daardie wêreldjie van jou?” Marelca, sy maatjie van kleuterskool af kyk met haar groot blou oë na hom, “juffrou het al 5 minute terug gesê dat ons moet begin met ons prentjie.” 
“Marelca, jy weet mos ek doen my beste werk as ek eers na my wêreldjie toe gaan!” Ek kan sien dat sy reg is om my ʼn klap te gee, maar sy besluit toe dat sy eerder die tyd baie beter kan gebruik as om met my te stry oor my gemaak wêreldjie. 
Ek kyk na die groot papier op my tafel en die moontlikhede is oneindigend.  Ek maak my tas oop en haal my Crayola washable markers en my Crayola twistables uit.  Nadat ek op die muur geteken het, het my ma besluit dat ek eerder washable skryfgoed moet gebruik. 
Ek haal my HB potlood uit en trek my eerste streep en dit was die einde.  Idees kry vorm in my kop, verskillende diere en hulle parte vlieg voor my oë verby.  My strepe kry vorm op die papier:  ʼn groot vis vir ʼn lyf, vier baie groot oë (hehe, jy weet om hulle beter te sien, hehe), drie pote wat lyk soos hoenderpote en heel laaste ʼn stuk liquerice, want hy hou van my gunsteling lekkers. 
Ek teken vir die vis groot driehoekige tande met ʼn groot glimlag.  Juffrou het mos gesê ons moet ʼn monster teken, maar nie dat die monster nie vriendelik kan wees nie.  My pa het my van kleins af geleer dat mens nie bang hoef te wees vir monsters nie, jy moet hulle net so verander dat jy vir hulle kan lag. 
Ek begin my prentjie in te kleur.  Eers die Crayola washable markers om die vis se lyne mee te trek.  Die “Hansviswors” moet helder en baie kleurvol wees, vir hierdie monster sal daar gelag word.
“Jinne, Eugene, maar is dit nou nie ʼn vriendelike en kleurvolle monster nie! Wat noem jy hierdie gedrog?” juffrou Erasmus kyk vir hom met ʼn groot glimlag op haar gesig. 
“Dis ʼn Hansviswors juffrou,” Eugene praat vol selfvertroue, “dis ʼn vis gekruis met ʼn hanswors.  Ons moenie toelaat dat monsters ons bangmaak nie, juffrou.  As jy vir hulle kan lag, is jy nie meer bang vir hulle nie.” 
“Dit is ʼn baie interessante manier van kyk na die lewe!”
Eugene hou van juffrou Erasmus, sy laat hom toe om homself te wees.  Eugene hou nie daarvan om in ʼn boksie gedruk te word nie.  Sy ouers het hom geleer dat om selfstandig te dink hom ʼn individu maak en dat hoofstroom te wees nie die moeite werd is nie.  Pa het hom geleer dat Swanepoels nie bang is om individue te wees nie, die beste persoon wat jy kan wees is die persoon wie jy op aarde gesit is om te wees.  En hy leef dit 100% uit.  Dis een van die redes hoekom juffrou Erasmus so baie van Eugene hou.  Hy is haar sterretjie in die klas.  Hy sorg altyd vir ʼn vars bries in die klas met sy anderse manier van dink.
 Sy verwelkom dit.  Hy het al ʼn hele paar verskille teweeg gebring in haar klas.  Chester wil nie meer soos Jimmy wees nie, hy is nie meer skaam om homself te wees nie.  Marelca het opgehou om weg te kruip en haar natuurlike leiers eienskappe het na vore gekom en sy is klaar ʼn moontlike keuse vir hoofdogter in graad 7. Ja-nee, hierdie seunskind gaan nog ʼn groot verskil in ons klein dorpie maak.
“Jong, kleur hom gou-gou in. “ Juffrou stap na haar tafel toe en gaan haal haar goue sterretjies uit haar boonste laai. 
Almal van ons het daardie dag sterretjies gekry, my en so paar ander se prentjies is ingeskryf vir die kunswedstryd.  My monster hang geraam in my seun se kamer met ʼn goue sterretjie in die hoek en ʼn “Mooi so!”.  Ek het baie gou geleer dat Crayola washables ook vir hom sal werk.

DIE EINDE


Marelize Erasmus
21
Afrikaans Addisionele taal onderwyser by Florida Park High School
Posbus 631, RIDGE TERRACE, 2168

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking