Dinsdag 14 Augustus 2018

Die tandemuis

Die tandemuis is ’n rare ding
wat enige kind se hart laat sing.

Saggies sluip die sluwe muis
rond in jou ouers se huis.

Versigtig en stil skarrel hy rond
opsoek na die tand uit jou mond.

Niemand mag hom sien
anders kry hy wat hy verdien:

Liewe mens
Slaap sag in jou bed
en hierdie muis sal jou wed.
’n Geldjie in jou skoen
en ’n muis wat sy werk kan aanhou doen.

Vir Monja

Ek sien die wêreld deur jou oë
en weet dat niks jou kan keer
om die lewenslesse te leer
en in wonderwerke te glo.

Ek sien die wêreld deur jou oë:
Prinsesse red drake in die nag 
en wen skaak kompetisies in die dag.
Jy besef al die geskenke kom van bo.

Ek sien die wêreld deur jou oë:
’n TV-kas word ’n woonstelblok,
jou koets ’n trok.
Daar is géén einde aan jou verbeeldingsvermoë.

Ek sien die wêreld deur jou oë.
Jou liggie skyn so helder...
Jou drome strek verder...
Ons harte word sommer bewoë.

Deur jou oë is die wêreld ’n reis.
Jou drome word nooit opgesluit in ’n kluis.

Augustuswind

Jy maak my siek
wanneer jy die takke heen en weer laat swiep.
Jy skop stofwolke in die lug,
lyk my jy geniet jou plig?

My neus loop met my weg
soos ek die dwarrels probeer veg.
Jy waai my weg,
stof in my mond proe sleg!

Jy tiekiedraai om elke hoek.
Kan jy asseblief net ophou moeilikheid soek?

My neus is al seer geblaas.
Gee my sinusse net ’n kans.

Huiswerkmonster



Ek is bang vir jou:
In my nagmerries speel jy die hoofrol,
my senuwees word wakker in 'n stresbol.

Ek sidder wanneer ek aantrek.
Ek bewe soos ma regmaak vir werk.
Ek gril om net daaraan te dink
al weet ek die monster gaan my nader wink.

Heeldag klappertand ek by die skool
en vrees ek jy kom op parool.
Onderswysers kerm oor goeie gedrag.
...ek wil eerder huil as lag.

In my laaste klas
loop ek in jou vas:

Voor op die skerm
geskryf in die swartste ink
is die woorde wat my laat kerm,
my moed in my skoene laat sink...

Huiswerk is my monster.
Asseblief, roep die verpleegster!

(14 Augustus 2018)