Vrydag 19 Julie 2013

Nostalgie: Om Afrikaans in Afrikaans aan te bied


Geskryf deur Marelize Swanepoel en gepubliseer in Klasgids vir Afrikaansonderwysers
Ek verlang vandag verskriklik na Afrikaans.  As Afrikaanse juffrou smag ek daarna om suiwer Afrikaans in my klaskamer te gebruik.  Om te voel hoe my moedertaal oor my lippe rol…tog is dit nie regtig moontlik nie.
As jy ‘n Afrikaanse onderwyser is wat eerste addisionele taal in jou klaskamer aanbied, weet jy presies hoe ek voel.  Praat jy suiwer Afrikaans, of net eenvoudige Afrikaans, gaan enkele bloedjies maar min verstaan.  Tog strek dit verder as net ‘n kommunikasie gaping tussen onderwyser en leerder.  Soms wil die leerders nie eers in Afrikaans probeer nie.  Hoe het my een klas dit aan my gestel:  “why should we be punished to be taught in Afrikaans?”  My hartjie, dit is tog immers die Afrikaanse klas, maar dit daar gelaat.  Sommige leerders het eenvoudig net nie die kapasiteit om Afrikaans in Afrikaans te verstaan nie, ek praat nou hier van leerders in graad 10, 11 en 12.  Iewers het die sisteem hulle gevaal of iewers het onderwysers, in ‘n poging om te help, gewys dat hulle nie Afrikaans in Afrikaans hoef te leer nie.  Hoekom moet die leerders sukkel in Afrikaans as boeke soos “Afrikaans Handbook and Study guide: An English student’s guide to Afrikaans” beskikbaar is?  Ek gebruik self genoemde boek in my klaskamer, baie van my kortpaaie het sy nederige begin by Beryl Lutrin se boek gehad.  Tog moet ek ook erken dat die Engelse benadering tot Afrikaans ‘n kruk geword het.
As groentjie is ek gou meegedeel dat ek moet besef dat ek Afrikaans in Engels sal moet aanbied.  Is dit nou nie vir jou ‘n oksimoron nie?!   Om Afrikaans IN Engels aan te bied.  Gou het ek besef dat die stemme nie besig was om grappe te maak nie.  Vroeg in 2005 het ek my Afrikaans-in-Engels-paadjie begin stap.  In ‘n poging om my leerders te help, het ek myself daarin gegooi om kortpaaie te ontwikkel om die vak meer toeganklik te maak.  Ek het in die soeke meer van my moedertaal geleer as die 12 jaar wat ek moedertaal-onderrig ontvang het.  Ek was selfs verbaas gewees toe ek besef dat my moedertaal opgebou is uit reëls en formules (amper nes Wiskunde) en nie net berus op aanvoeling soos ek al die jare gedink het nie.  Glo dit of nie, STOMPI het my gehelp met my derdejaar Sintaksis sinsontleding!! 
Skielik het ek nie net gevoel ek is reg nie, ek het geweet my antwoorde is reg.  Ek het selfs begin om my antwoorde te toets met die Engelse verduidelikings van die reëls.  Skielik het ek nie net geweet iets is reg nie, ek het geweet hoekom dit reg is.  Ek gebruik steeds my Engelse kortpaaie om my Afrikaanse sinne te toets.  Dié manier van aanbied het my bemagtig om Afrikaans beter te verduidelik aan my leerders.  Hoeveel keer het ek op skool vir my Afrikaans onnies gevra hoekom iets is soos dit is.  Malle sonder tal is ek meegedeel dat dit reg voel op die tong óf omdat dit so moet wees.  Deesdae kan ek met selfvertroue presies verduidelik hoekom iets op ‘n spesifieke manier werk as ‘n leerder my vra: “But why mam?”
Tog sit ons nou met ‘n catch-22 situasie:  Ons wil ons leerders help om in Afrikaans te presteer, daarom gebruik ons Engels om Afrikaans te verduidelik.  Die probleem is egter terwyl ons Afrikaans in Engels aanbied, ontneem ons ons leerders van die geleentheid om Afrikaans op die regte manier te leer.  Die probleem met die benadering is dat daar leerders voor ons sit wat nie ‘n woord Afrikaans verstaan nie.  Kan jy die probleem sien waarmee ons Afrikaanse taalonnies sit in Engelse skole?  Ons kan suiwer Afrikaans in die klas gebruik, maar dan druip ‘n groot gedeelte van ons leerders.  Ons kan Afrikaans in Engels verduidelik en darem ‘n 40% klasgemiddeld bymekaar skraap.  In sommige gevalle is hierdie 40% vir ons ‘n verskriklike groot prestasie. 
Daarom sit ek met nostalgie en verlang na Afrikaans in Afrikaans aanbied.  Ten minste kan ‘n groter meerderheid van my leerders Afrikaans deurkom, al is dit nie die ideaalste omstandighede nie.  Hoe kan ons probeer om deel van die oplossing te wees en nie die probleem self nie?  Ek het besluit om my skuif na ‘n laerskool te maak, op hoërskool is dit amper te laat om die leerders te dwing om Afrikaans in Afrikaans te neem.  Ek gaan steeds my kortpaaie gebruik wat ek uit die Engelse aanbieding van Afrikaans geleer het, maar die keer gaan ek my bes probeer om dit in Afrikaans aan my leerders oor te dra.  Al kos dit my om korter sinne, stadiger praat en baie herhaling te gebruik.  Ons doel is tog nie net om kinders te kry om Afrikaans te slaag nie, ons uiteindelike doel is om ons kinders te kry om Afrikaans met selfvertroue te kan praat. 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking