Dinsdag 14 Augustus 2018

Die tandemuis

Die tandemuis is ’n rare ding
wat enige kind se hart laat sing.

Saggies sluip die sluwe muis
rond in jou ouers se huis.

Versigtig en stil skarrel hy rond
opsoek na die tand uit jou mond.

Niemand mag hom sien
anders kry hy wat hy verdien:

Liewe mens
Slaap sag in jou bed
en hierdie muis sal jou wed.
’n Geldjie in jou skoen
en ’n muis wat sy werk kan aanhou doen.

Vir Monja

Ek sien die wêreld deur jou oë
en weet dat niks jou kan keer
om die lewenslesse te leer
en in wonderwerke te glo.

Ek sien die wêreld deur jou oë:
Prinsesse red drake in die nag 
en wen skaak kompetisies in die dag.
Jy besef al die geskenke kom van bo.

Ek sien die wêreld deur jou oë:
’n TV-kas word ’n woonstelblok,
jou koets ’n trok.
Daar is géén einde aan jou verbeeldingsvermoë.

Ek sien die wêreld deur jou oë.
Jou liggie skyn so helder...
Jou drome strek verder...
Ons harte word sommer bewoë.

Deur jou oë is die wêreld ’n reis.
Jou drome word nooit opgesluit in ’n kluis.

Augustuswind

Jy maak my siek
wanneer jy die takke heen en weer laat swiep.
Jy skop stofwolke in die lug,
lyk my jy geniet jou plig?

My neus loop met my weg
soos ek die dwarrels probeer veg.
Jy waai my weg,
stof in my mond proe sleg!

Jy tiekiedraai om elke hoek.
Kan jy asseblief net ophou moeilikheid soek?

My neus is al seer geblaas.
Gee my sinusse net ’n kans.

Huiswerkmonster



Ek is bang vir jou:
In my nagmerries speel jy die hoofrol,
my senuwees word wakker in 'n stresbol.

Ek sidder wanneer ek aantrek.
Ek bewe soos ma regmaak vir werk.
Ek gril om net daaraan te dink
al weet ek die monster gaan my nader wink.

Heeldag klappertand ek by die skool
en vrees ek jy kom op parool.
Onderswysers kerm oor goeie gedrag.
...ek wil eerder huil as lag.

In my laaste klas
loop ek in jou vas:

Voor op die skerm
geskryf in die swartste ink
is die woorde wat my laat kerm,
my moed in my skoene laat sink...

Huiswerk is my monster.
Asseblief, roep die verpleegster!

(14 Augustus 2018)

Sondag 11 September 2016

Bewolk

So grys soos die wolke buite
verskeur tussen verskillende besluite.
Die wind los 'n koue gevoel
tog weet ek nie wat dit bedoel...

Ek wonder of dit my lei
of my dalk moet vorm soos klei.
Ek wonder of ek daaruit moet leer,
al voel ek hoe dit my verskeur!

Binne sit en staar ek na buite
vasgekluister in my stoel.
Nêrens om weg te kruip van die gevoel...
worstel ek met menings en feite.

Die donkerte sal wegwaai.
Die son sal weer skyn.
Die hartseer en twyfel sal verdwyn.
My emosies sal my nie meer verraai.

29 jaar oud
April 2015

Vasgekeer

Die wind wat om my vou:

- 'n voël in 'n kou -

Geen beheer
oor al die seer.
Ek voel dit in my wese,
dit vererger die vrese.

Die wind waai donker wolke nader;
"Is jy daar, Hemelse Vader?"

Vasgevang in rou emosie...
'n Wantroue mosie.

Uit die kou wil ek klim
om lig aan myself te bring.

29 jaar oud
April 2015

Ode aan my oumie

In stilte tye soek ek na jou
'n Baie trotse en statige vrou.
Oumie was altyd daar...
in God se arms is oumie nou.

'n Leemte in my hart
is gevul met rou,
want oumie is nie meer hier.

Ouma word gemis.
'n Magdom herinneringe so soet:

'n Liefde vir bak-en-brou
Geselsies wat om my vou
Soveel stories gedeel oor verlede
wat ons deel in ons gene
Oumie se invloed op my lewe
In tye wat my moed my wou begewe
Soveel drukkies gedeel
en kuiers gereël.

Oumie deel soveel tye met my:
Planne om my op universiteit te hou
Oumie daar op die dag wat ek trou
Monja in oumie se arms toegevou

Ek en Oumie kon alles deel
Sjoe, ek mis oumie nou heeltemal te veel.

29 jaar oud
RIP Oumie Lettie Bloem
2015

Lig en donker

Takke voor 'n venster
bries wat daardeur waai.
Flikkerende donkerte
Flikkerende lig

Emosionele flikkering
lig...donker...lig...donker...lig...
Daar moet iets fout wees!
Soek en krap na die oorsaak.
Kritieser oor myself
'n Kritiese sirkel van herhaaldelike krap.

Helder oomblik
Gee lig op die onderwerp...

Chemiese wanbalans hou my van balans
Gee beheer - soos die takke in die bries -

Kennis is mag.
Dit gee jou krag.
Kritiese denke word sag.
Slaap rustiger in die nag.

29 jaar oud - Poortview

Dinsdag 06 September 2016

Afrikaans is vir my...

Afrikaans is vir my...

Afrikaans is ’n
Fynproewersdroom
Ryklik geseën met
Individualiteit
Kunstigheid
Ambassadeurs en
Avontuurlustige stemme
Nuwerwets
Salig

Geskryf na aanleiding van my Ambassadeurskap. 

Soek en gevind

Soek en gevind

Uiteindelik ervaar ek kalmte:

Die soeke is gevind
Die onrus is rustig
Die angs is kalm

Wedrengedagtes snel nie meer deur my kop
Vinnige wegholtreinspraak onder beheer.
Die smagting om iets met my hande te doen
is nou met kalmte versoen.

Om op die oomblik te kan konsentreer
laat my lig voel soos 'n veer.
Om vasgevang te wees in die oomblik
om die ervaring van nou uit te pluk

Groot verligtig om uiteindelik te weet
en al die onsekerheid en angs te vergeet.
Ek is ek, maar net beter.
Ek het myself gevind, verseker.

(5/05/2015)

Stoei met jou



Stoei met jou


Ek het so lank gestaar na jou:
leeg
wit
sonder woord...

so lank nie geskryf nie
so lank terug laas uitgestort
so lank terug aan alles gedink

Waarom het ek opgehou
dink
skryf
neerpen...

te besig vir my pen
te besig vir my papier
te besig vir my altyd bewuste onderbewuste

Hoe dink jy as jy nie weet waaraan nie?
Hoe probeer jy sin maak waar niks wil ink nie?
Die warboel maak nie sin sonder struktuur...
Hoe gee jy struktuur aan dit wat nie wil sin nie?

Soveel verdomde vrae...
Te min tyd, geld, raad, verstaan...
tot in der ewigheid

Ek wil sin maak op papier.
Ek maak myself deurmekaar op papier.
Tyd is om...
Verdomp

(24 jaar oud)
 Ek het hierdie gedig by die lughawe geskryf terwyl ek vir Adriaan gewag het om van Kaapstad af terug te kom.

Apollo se hamer



Apollo se hamer


Die oog
van die storm, die middelpunt
van alle pyn. 
Die brandende pyn van donderslae.
Die klappe soos hamerslae.

Klink soos ‘n disko
Doefgeluide oorheers:
            in jou voete
            in jou hande
            in jou kop
veral in jou kop

Stemme wat fluisterend fluister
Woede wat weergalm
Jou ore hamer

EK
KAN
DIT
NIE
MEER
VAT
NIE

Gille in my ore
Fluisterstemme in my kop

Is ek mal?
Verloor ek kop?

Horlosies vergete
            ek het mos my eie

Dag soos vandag



Dag soos vandag


Vandag is weer een van daai dae:
‘n Dag wat jy wens jy’t liewer omgedraai
en verder geslaap…

‘n Onheilspellende dag

‘n Dag met ‘n donker hemel.
‘n Dag wat huil in die reën.
‘n Dag wat my gemoed aanvoel…

Donker en alleen en moeg en bang!

Vandag is ‘n dag soos enige ander,
net jammer dis so anders:

Bewolkte oë
Swaaiende arms
Betraande ruit

Dis ‘n dag wat jy onder ‘n klip wil
lê en onsigbaar wees                                  verdwyn

Onsigbaar
            die pyn
            die hartseer
            die alleenwees

Onsigbaar
            vir kweswoorde
            vir onstuimige kyke

(18 jaar oud)