Woensdag 29 Junie 2016

Kortverhaal wat ek oor 'n tydperk van 10 jaar geskryf het = Begin skryf in 2005 - Verhaal voltooi in Mei 2015



Woestynman van my verlede

Dit het alles op ‘n winderige Augustus-middag begin.  Dit was op dié oomblik wat my lewe vir ewig sou verander.  Hoe sou ek kon raai dat dinge so kon uitdraai?  Hy het laat weet dat ek hom by die rivier moet ontmoet…nogal onder ons boom.  Ons wilgerboom met die swaai wat ons nog saam opgesit het.  Ek onthou daardie dag soos gister.

Hy het my gewys hoe om die tou te vleg, soos ‘n wafferse matroos wat lankal sy seëvoete gevind het.  Die houtplankie het nog geruik na vernis – drie lae om die hout vir ewig te bewaar.  En dan natuurlik om steekse splinters net daar ook die nek in te slaan.  Dit het ons omtrent twee ure geneem om die swaai op te sit…hy was pure heer en het daarop aangedring om die boom self te klim, ten spite van sy hoogtevrees.  Dit was ‘n pragswaai wat so sterk in die winderige weer sy man gestaan het.

Terwyl ek vir hom gewag het, het ek op ons swaai gaan sit en ritmies teen oupaklok-slae geswaai.  Ek kon die wind oor my wange voel streel terwyl ek heen en weer geswaai het.  Hoe hoër ek geswaai het, hoe vryer het ek gevoel; soos ‘n voël wat op die vlerke van die wind sweef.  Ek besef dat ek huil en dwing die swaai tot stilstand.  Ek het afgeklim en op die kombers soetgras gaan sit met my arms om my bene gevou.  Die herinnerige is oorweldigend – die snikke het deur my lyf geruk soos die skote van lood wat deur sy teiken dryf.  Hy het my dié dag styf in sy arms toegevou en my rukkende lyf probeer kalmeer.

Ek het op dié einste swaai gesit.  Hy het teen die wilger geleun.  Ek kon sien iets pla hom, dis asof hy ‘n innerlike stryd met homself gevoer het.  Hy het onbewustelik in die niet uit gestaar en op sy onderlip gebyt.  Dit was duidelik dat iets hom pla.  Toe hy na my opkyk, het ek die trane in sy woestynoë sien vorm.  Ek was diep getref deur sy trane.  Ek het ook groot geskrik, want hy is die tipiese boerseun wat glo dat trane net vir sissies is.  Die trane het vrylik oor sy wange gevloei – dis toe dat my keel begin toetrek.  Hy het soos ‘n weerlose seuntjie gelyk.  Toe hy sy mond oopmaak, kon ek nie verstaan nie.  Ek wou nie verstaan nie.  Ek kon sien dat hy doodernstig was.  Hy moes weggaan.  Ek wou weet hoekom hy moes gaan.  Hy kon nie net gaan nie.  Ons het net die vorige week gepraat van vas uitgaan.  Hy wou nie redes gee nie, net dat hy moes gaan en hy het belowe hy sou skryf.

Ek het met my rug teen die wilger geleun, daar waar hy destyds geleun het.  Ek het in my handsak rondgekrap en op die enigste skaflike ding afgekom wat my trane sou help opdroog…ek het gedink ek het dit verloor, maar ek het nie.  Ek het die sakdoekie, wat hy uit die liefde van sy hart gemaak het, teen my wang gedruk.  Ek kon nie help om te glimlag nie.

Die sakdoekie was ‘n liefdesgebaar.  Dit en die speelgoedboksie wat ek gemaak het.  Ons het besluit om elkeen iets vir die ander een te maak, maar ons moes maak wat die ander persoon wou gehad het.

Ek wou ‘n sakdoekie en hy ‘n speelgoedboksie hê.  Min het hy geweet dat my pa my van kleinsaf met die houtwerk-kamer vertroud gemaak het.  Die verbasing op sy gesig toe ek vir hom die donker gevlekte boksie met fluweel-uitvoering en opligdekseltjie gee.  Hy het baie verleë sy handewerk vir my gewys.  Dit was terselfdertyd ‘n pragtige en afskuwelike stuk blou-lappie met stikwerk wat die materiaal skeefgetrek het.  Hy wou dit dan en daar weggooi, maar ek het dit by hom gevat en belowe dat ek dit vir altyd naby my sal bewaar.  Tot vandag toe.  Ek kan nie glo hierdie handsak het vir jare net in my kas gelê nie.

Die son sit al hoog en steeds het hy nie opgedaag nie.  ‘n Beweging aan my linkerkant vang my oog.  ‘n Kleurvolle skoenlapper het op ‘n veldblommetjie, skaars dertig sentimeter van my af gaan sit.  Dit was prentjiemooi.  Nog nooit in my lewe het ek die  kleure van die reënboog so mooi sien lyk soos in hierdie skoenlapper nie.  Die reënboog simboliseer die herinnering van ‘n belofte; God se belofte dat Hy nooit weer die vloed sal stuur nie.  God het Sy belofte gehou, maar nie hy nie.  Die belofte dat hy sou skryf, het nooit gebeur nie.  Sy belofte het soos die skoenlapper uit my lewe verdwyn.  Hoe kon ek so dom gewees het!

Ek het hom vertrou, hom geglo!  Ek moes nooit die simple mansmens geglo het nie.  Dit was moontlik die grootste fout van my lewe.  Hoeveel vloede het nie oor my wange gespoel nie, alles net vir hom en vandag moet ek vaskyk in sy pragtige mond wat ‘n hoop leë beloftes gemaak het.

Hoekom pla dit my so?  Dis nie asof dit die eerste keer is wat hy vir my jok nie…maar tog het ek die teendeel gehoop.  Ek voel dat vandag as herontmoeting eintlik sy verduideliking gaan wees.  Ek voel hy is my dit verskuldig.  Gaan dit regtig net oor die feit dat hy belowe het hy sou skryf en dit toe nooit gedoen het nie?  Of gaan dit juis daaroor dat hy geloop het en my nie in die oë kon kyk en vertel hoekom hy moes weggaan nie?  Vandag sal ek weet.  Natuurlik sodra hy besluit om op te daag.

Ek kan nie onthou dat ek ooit vir hom moes wag nie…hy is immers ‘n baie stiptelike boerseun, “’n familiekwaal” het hy altyd gespot.  Hy het soms die afspraak net-net gemaak, maar hy was nooit laat nie.  Selfs met die matriekafskeid.  ‘n Familie krisis het opgeduik.  Ek sou regtig verstaan het as hy nie saam kon gaan nie.  Tog het hy opgedaag, bietjie verwilderd en hartseer.  Al wat saak gemaak het, was dat hy wel opgedaag het.

Die wind het weer begin waai.  Ek vou my arms styf om my lyf, dit help so effe vir die koue.  Ek probeer myself warm hou teen die protesterede watergolfies wat rondgeslinger word soos die slap lyfie van ‘n lappop, vasgevang in ‘n draaikolk.  Ek het hoendervleis.  Die wind kruip diep binne-in my are op, skeur soos ‘n vlot deur my lewendgewende  vloedwaters.  Dit dreig om my te oorweldig, om my hart met ystergreep te verstrengel. Net so is die koue weg en my hele wese besef dat die draaikolk weg van my gedraai word.  Dit is die hitte in die woestyn-oë wat my van binne warm maak, wat warmgloede opstuur na my wange. 

Ek dag eers dit is reën, maar besef dis warm druppels vanuit my hart wat hul weg gevind het na my blou oogpoele.  Ek huil van vreugde.  Ek word teen my woestynman se bors gekoester.  Dit voel soos gister wat ek net so in sy arms was – so veilig en beskermd.  Die tyd het vir ons stilgestaan – dit het soos ‘n ewigheid gevoel voor hy my gelos het.

Die trane het verdwyn waar hy veersag oor my wang gestreel het.  Toe my oë oopgaan sien ek dat sy oë ook vol emosies is met trane wat dreig om te vloei.  Tog is dit nie dieselfde woestyn-oë waarin ek tien jaar gelede opgekyk het nie.  Hy het oud geword.  Die lagplooie om sy oë is nie meer so duidelik sigbaar nie.  Die vlam wat in sy oë gebrand het al daardie jare terug is geblus.  Sy oë vertel ‘n ander storie.

Dit vertel die storie waarvan ek nie die einde ken nie.  Ek voel hy moet nóú  verduidelik.  Hy wou my mos sien by ons plek.

Hoekom staan hy net daar en kyk vir my?  Hoekom straal sy oë die hartseer wat ek oor sy lippe wil hoor?  Hoekom praat hy nie met my nie?

Hy vat my hand in syne en trek my af na die grond toe.  Hy wil hê ek moet sit.  Sy lippe beweeg, maar ek verstaan nie wat hy sê nie.  Ek hóór nie wat hy sê nie, baie dinge gebeur in ‘n tydperk van tien jaar.  Net soos hy, het ék ook verander.  So verskriklik verander.  Destyds kon het hom nie hoor nie, nou wil ek hom nie hoor nie.

Ek kul myself dat ek nie hoor hoe jammer hy is oor hy net weggegaan het nie.  Ek oortuig myself dat ek nie rede wil insien vir sy situasie nie.  Hoe kon hy net weggaan en my stukkend laat lê het, sonder ‘n verduideliking?

Dit voel onwerklik.  Hy het regtig nie ‘n keuse gehad nie.  Om my te laat gaan was die moeilikste ding wat hy nog ooit moes doen.  Hy was lief…is steeds lief vir my.  Ek besef dat ek steeds lief is vir hom.  Ek besef dat die verwerping en seer destyds oorskadu word deur die warm gevoel in my hart.  Dis asof my hart ‘n kou is waaruit ‘n spierwit duif ontsnap.

Die warm gloed in my hart versag die seer.  Maak dit draagliker omhom te hoor en myself ontvankliker te maak vir sy verduideliking.

Hy was destyds skaam om te erken dat sy ouers vreeslik baklei het.  Hy was skaam om te erken dat hy vreesbevange aande ervaar het.  Hy was vreesbevange dat ek anders nah om sou kyk as ek moes weet dat sy pa gearresteer was en dat hy en sy ma na ‘n plek van veiligheid geneem moes word.  Die plek van veiligheid was nie ‘n veilige hawe vir hom nie.  Hy kon nie sy ma ook nog verloor nada thy so skielik van my af moes weggaan nie.  Hy het in ‘n donker gat gesink, sonder hoop.  Dit het hom vreeslik lank gevat om al die stukke weer bymekaar te hark en weer sy hart te waag op iets so onaantasbaar soos ek.  Hy was bang ek het van hom vergeet of dalk getrou met ‘n ander man.

So kwaad as wat ek vir hierdie woestynman was, kon dit nie my liefde vir hom blus nie.  Onwetend het ek steeds vir hom gewag.  Onwetend gehoop dat ons weer bymekaar sou uitkom.  Ons het ‘n tweede kans gekry.

Marelize Swanepoel
Begin skryf in 2005
Verhaal voltooi in Mei 2015