Sondag 14 Junie 2026

Suid-Afrika se Interstate 60

 Lesse geleer by Neil Oliver


Ons koekkersies vasgeklem in ons hande:

die volk soek antwoorde

 – net dalk word dit waar –

“verjaarsdagwense moet immers nie vir jouself gehou word nie”

 

‘n Kaartspel wat jy ken:

Swart skoppens en rooi hartens

of is dit rooi skoppens en swart hartens?

Kan ‘n graaf en hart so eenders wees

wanneer jy die kleure verkeerd lees?

Gekondisioneer om te glo sonder om te vra,

maar wat as jou oë eendag oopgaan?

 

Dan beland jy op Interstate 60

 

Dan bevraagteken jý alles

of so hoop mens.

Sien ons wat ons wil sien?

Nee, ons sien wat vir ons gesê word.

 

“Kom ons breinbliksem die mense,

hulle onkunde ons kondome!”

 

Suid-Afrika lankal soos Banton:

Oneindigende gewaarsku teen die gevaar;

‘n keuse.

Die probleem: jy sien hul op ander leun.

Totaal onbewus van rooi skoppens…


Die verwagting –

Sê wat jy bedoel en bedoel wat jy sê.

Die realiteit?

Leuens.

 

Steeds op soek na antwoorde

– warmer of kouer –

trek jou eie kruisie en vind uit…

 2024



 

My ooreenkoms met Klaasvakie

‘n Drafstap, niks meer,

maar tog tree ek meters.

Geen skoene of veters,

so lig soos ‘n veer.

 

‘n Drafstap, niks meer,

tog bruis die wind in my ore.

Probleme skielik verlore,

ek word nie meer gekeer.

 

My lekkerste droom:

Sonder inspanning hardloop ek vinnig

Sonder inspanning hardloop ek ver

So vinnig dat ek vlieg…

 

Ek is vry:

geen kettings aan my enkels

geen seer om weer te leer

 

dan droom ek, ek is vry

dat ek nóú alles kan kry

 

Ongelukkig is realiteit wreed:

My oë gaan oop en ek gly

Om vir altyd hier te bly

 

Klaasvakie, asseblief sal jy my oorval?

Om weg te hardloop van my probleme

Om te vergeet van die grootste wal

Om eerder in droomland te lewe

Tweestryd

 Ingeëts in my vel;

So kan dit die storie vertel.

Die pyn, bekend, soos die naalde penetreer

Herhaaldelik word lewenslesse oor en oor geleer.

Ink is ‘n vonnis wat altyd bly

‘n Herinnering dat mens altyd ly.

 

Ek is gemerk om te onthou dat jy altyd daar is.

Grommend by die agterdeur...

Reg om verby te beur...

Om my mee te sleur...

 

My tweegesig wolf

My bipolêre golf