“Ek kan nie meer
nie.” Ek sak neer op die stoel, my kop val op my arms, dit voel asof ek nie
asem kan kry nie.
“Izzie, wat is fout, wat ís dit nou?” Sunette, wat saam met my gestap het om
my met die stapel opstelboeke te help is dadelik langs my. Sonder om aan my te
raak. Want ek het nagelaat om die klaskamer se deur toe te maak. En netnou sien
iemand.
“Dit!”
Ek beduie met my arms. Hoe anders kan ek aan haar oordra wat dit is wat besig
is om my tot breekpunt te dryf?
“Wat bedoel jy met ‘dit’?” Verwarring is duidelik te lees op haar gesig.
“Ek weet nie eens waar om te begin nie, Sunette.” Ek vee my gesig met my
bloes se mou af. “Ek kan nie meer sonder drukkies nie. Ek kan nie meer verby ’n
moedelose kind stap sonder om hulle met ’n hand op die skouer te bemoedig nie.
Ek kan nie meer huilende kinders met woorde alleen paai nie.” My kneukels span
soos ek myself met ’n omhelsing probeer troos. “Hoe propageer ek sosiale
afstand as ek self nie daarin glo nie?”
Dit voel soos
gister dat meneer Sweldt ’n noodpersoneelvergadering byeengeroep het.
“Goeiemôre, dames en here,” het hy met ’n somber stem gesê, “ons het pas
nuwe kommunikasie van die departement ontvang. Enigiemand wat die sosiale afstandreël
minag sal dissiplinêr aangekla word – dit sluit onderwysers en leerders in.
‘Raakvrate’, soos die departement hierdie oortreders noem, sal nie langer
geduld word nie.”
My moed het tot in my skoene gesak.
Maar dit was nie al nie. Hy het voortgegaan: “Ons is almal bewus daarvan
dat die virus deur aanraking versprei word, julle is dus gewaarsku. Addisionele
maatstawwe sal ingestel word om die situasie te monitor.”
Ek en Sunette het gelyk met geligte wenkbroue na mekaar gekyk. Sy is een
van my beste vriendinne, maar anders as ek, is sy ’n pliggie. Sy verstaan my
sienswyse, maar “die regte ding” is tweede natuur vir haar.
Daardie deuntjie eggo nou in my ore, hoewel dit uit my eie mond kom:
“Sosiale afstand, outjies! Moenie aan mekaar raak nie!”
Net om om die volgende draai te stap en te sien hoe twee latte bladskud of
twee vriendinne mekaar ’n sydrukkie gee. Skuldige ogies wat wegkyk as hulle
sien juffrou het hulle gewaar. Ek is veronderstel om hulle te straf – sonder
enige waarskuwings. Gevolglik loop ek siende blind in die gange rond. Ek is
self skuldig.
“Sunette, hoe
straf ek kinders as ek self die sosiale afstandreël verbreek? En nou kan ek my
werk verloor?”
Sunette sug. “Izzie, ek weet jy sukkel hiermee. Ek sien hoe dit jou
uitmergel en ek verstaan dit in ’n mate. Belowe my jy sal versigtig wees.”
Duidelik het Sunette haar kant gekies.
En ek?
Ek kan nie eens meer ’n lekker Netflix-movie geniet nie. Nie nadat ek met
’n skok besef het dat ek die karakters oordeel as hulle aan mekaar raak of
mekaar omhels nie. Hoe het ek hiér gekom? Is ek gewoon ’n tweegesig? Ek reageer al
outomaties as ek oortreders sien, maar ek bly onwillig om hulle te straf.
So gekondisioneer is ek al. En ek wíl nie so wees nie. Ek doen my werk, want dis wat van
my verwag word, maar agter geslote deure volg ek my hart.
Ek was nog altyd ’n empatieke
onderwyser wat my leerders met deernis behandel. Dis tweede natuur vir my om ’n
”vat-vyf”-hand op te hou wanneer my kinders iets goeds doen, om verby ’n tafel
te stap en ’n leerder met ’n skouerdrukkie te kalmeer tydens ’n toets, of om ’n
sielsongelukkige kind te omhels omdat woorde eenvoudig ontbreek. My liefdestaal
is aanraking – om te gee en te ontvang. Dit breek my brein, dit breek my hart,
en dit breek my as onderwyser.
Die volgende oggend het die
toepassing van die addisionele maatstawwe my totaal geskok. Elke graad is apart
saal toe geroep en dienooreenkomstig aangespreek:
“Grade mag nie meer deurmekaar pouse hou nie, ons kan julle nie vertrou om
die sosiale afstand te handhaaf nie. Julle sal pouses na julle geallokeerde
speelareas toe gaan en van die stoele gebruik maak wat om die geel geverfde
kruise staan. Stoele mag nie geskuif word nie. Raakvrate sal nie meer geduld
word nie.”
Mnr. Sweldt was ’n baie ongewilde persoon op daardie oomblik. Ek kon nie
help om die gefluisterde kommentaar te hoor nie:
“Moet ons nou soos soet eendjies in ’n ry sit?”
“Ek gaan nie op daardie stoel sit nie, wat kan hulle kamma aan my doen?”
“Wat vir ’n ding is ’n raakvraat?”
Daar sal altyd
rebelle wees. My registerklas was vol vrae ná die gewraakte
saalbyeenkoms.
“Juffrou, verduidelik asseblief vir ons wat ’n ‘raakvraat’ is?” vra
Katrien.
“Juffrou, wat gaan gebeur as ons nie op die stoele sit nie?” laat hoor
Johan.
“Outjies, sit net eers, asseblief. Raak rustig.” Ek staan voor met my hande
in die lug. Dit neem ’n rukkie voordat almal hul sitplekke ingeneem en hul
aandag op my gevestig het.
“Katrien, ’n raakvraat is iemand wat nie die sosiale afstandreëls nakom
nie. Dis iemand wat heeltyd aan ander mense vat, jy weet soos in drukkies gee
en handskud. Jy is mos ’n vraat as jy te veel eet. Jy is nou ’n vraat as jy aan almal raak.”
Ek wurg die woorde uit, ek weet nie of die kinders kan sien dat ek daaraan
wil verstik nie. Onderwysers moet uit een mond praat, uit een mond straf.
“Johan, ek wil nie hê ons moet van jou ’n voorbeeld maak nie. Dis
voorskrifte wat direk van die onderwysdepartement gekom het. Ek weet jy wil nie
dissiplinêr verhoor word nie ...”
“Dissiplinêr verhoor omdat ek nie op ’n stoel wil sit nie, Juffrou?” Johan
praat heeltemal te hard en ek skrik vir sy woorde.
“Johan, jy weet goed dis nie wat ek bedoel nie. Die saak staan so: Die
departement probeer julle beskerm teen die oordrag van die virus. Uiterste
omstandighede vereis uiterste maatreëls.”
Dis juis hierdie
uiterste maatreëls wat my tot breekpunt gebring het. Skoolgee het drasties
verander. Ek het oornag van ’n onderwyser in ’n polisievrou verander, ’n
oppasser wat iemand soek om te straf, iemand wat heeltyd propaganda uitspoeg.
Ek leer om ’n masker te dra. Hoe vertrou jy ’n onderwyser wat agter ’n masker
skuil?
Saans kan ek nie meer slaap nie. Ek droom die aakligste drome. Een aand gaan
dit oor arms. Dat amper niemand meer met arms gebore word nie. Ander het arms
wat afval as hulle aan iemand raak. Ek sien myself in die middel van ’n groep –
terwyl my arms deur ’n onsigbare mag agter my rug vasgewerk word. Heeltyd word
hierdie één woord herhaal: raakvraat, raakvraat, raakvraat.
Die intensiteit bou op tot ’n staccatorefrein. My snikke en my man se arms om my ruk my uit die nagmerrie. My wange, kussing
en slaapklere is deurweek. My bo-laken is om my gedraai soos ’n galgtou. Hierna
het ek gesukkel om te slaap en my psigiater moes my medikasie aanpas.
Die ergste
oomblik vir my was toe ’n kind ’n ander kind as ’n raakvraat uitkryt. Die
departement se woorde, herhaal deur my hoof, dieselfde woord wat oor my lippe
gevloei het, word nou as ’n wapen tussen kind en kind gebruik.
Dis nie lank nie of onderwysers
begin ook om oortreders “raakvrate” te noem. Raakvraat. Die skeldnaam vir daardie
leerders wat nie die “sosiale afstand” respekteer nie.
Raakvrate wil ander aansteek. Raakvrate gee nie om vir ander mense nie.
Raakvrate is selfsugtig. Raakvrate is vuil. Raakvrate is reëlbrekers. Leerders
word aangemoedig om raakvrate aan te meld by hulle onderwysers en die
skoolraad. Aanmelders kry ’n sterretjie. Raakvrate word oor die interkom
uitgeroep en summier huis toe gestuur. Hulle moet dokter toe gaan en ’n
virustoets ondergaan voor hulle toegelaat word om weer skool toe te kom.
Hierdie toets word ook as verswarende omstandigheid gebruik gedurende hul
dissiplinêre verhoor.
Ek is
sielsongelukkig en wil nie meer ’n juffrou wees nie. Dag na dag moet ek sien
hoe my kinders sukkel om die reëls te gehoorsaam, moet ek hulle kondisionering
verduur. Ek reken dis wat my aangespoor het om daarteen op te staan. Ek kon nie
my kinders oorlaat aan die haatveldtog nie. Ek het ’n trotse raakvraat geword.
Ek het die woord my eie gemaak. Ek wou nie toelaat dat ’n blote woord van my
besit neem en my verander nie.
My stoorkamer word ’n veilige hawe
vir diegene wat vertroosting soek. “Kan ek juffrou in juffrou se stoor sien?”
het die kodewoorde geword vir “Juffrou, ek het ‘n drukkie nodig ...”
Ek is gelukkig dat ek nog nie uitgevang is nie.
Tot die dag toe die departement by
ons skool opdaag en “onderhoude” met kinders en personeellede begin voer.
“Sunette, het jy gesien daar word
elke periode ’n klompie kinders uitgeroep?” vra ek.
Sy knik. “Ja. Hulle kom met rooi gehuilde oë uit die kantoor. Ek wonder wat
gaan daar binne aan.”
Ek is net so nuuskierig oor die “onderhoude” en die feit dat die hoof dit
alles agter ’n geslote deur doen. “Wat het geword van verteenwoordiging?” vra
ek heftig. “Weet die ouers dat die departement met die kinders praat sonder die
teenwoordigheid van ’n volwassene?”
“Izzie, wees versigtig wat jy so hard in my klas sê. Jy weet my klaskamer
is skaars ’n klipgooi van die personeelkamer af,” skerm Sunette.
“Nou hoekom maak ons nie die deur toe terwyl ons praat nie?” wil ek
skoorsoekerig weet. Dis nie die eerste keer dat sy my probeer inrem oor my
opinies nie.
“Izzie, moenie so wees nie. Jy weet ons hou ons klasdeure oop omdat die
departement dit vereis. Daar moet goeie ventilasie wees om die oordrag van die
virus te stuit.”
Sunette klink soos ’n papegaai. Wie se woorde spoeg sy nou vir my terug?
Meneer Sweldt s’n of die man van die departement?
Later het ek nie meer by Sunette gaan sit tydens pouses of af periodes nie.
Die departement
se teenwoordigheid het vinnig sigbaarder geword. Agent 1 het ’n kantoor in die
hoofgebou gekry en Agent 2 is aangestel as die nuwe lewensoriënteringsonderwyser.
Aanvanklik het ons niks vermoed nie, maar stuk-stuk het die inhoud van ons
gesprekke tydens personeelvergaderings op die lappe gekom.
Ons private gedagtes was nie meer ons eie nie. Ons het gou nie meer geweet
vir wie ons mag vertrou nie. Ek het opgehou om personeelkamer toe te gaan. Ek
was gestrand op my eie eiland. Dit was net ek en die kinders.
“Juffrou, ons kan nie so aangaan
nie!” laat Katrien hoor toe sy voet in my klas sit.
“En nou, Katrien, wat het jou so omgekrap?”
“Juffrou, hierdie ‘pandemie’ om mee te begin. Daai mense van die
onderwysdepartment loop soos polisiehonde hier rond en sê vir ons wat ons moet
doen. My vriende is bang vir hulle, bang om ’n voetjie skeef neer te sit, bang
hulle word ook ingeroep!”
Katrien skep asem. “Juffrou, ons loop soos soldaatjies in rye, ons sit soos
eendjies in rye, ons kyk skaars skeef vir mekaar dan moet ons die
departementsman in sy kantoor gaan sien. En as nog één persoon vir my
sê ek moet oppas of hulle gaan my verkla oor ek ’n ‘raakvraat’ is, gaan ek
hulle iets aandoen!”
“Katrien, kom ons gaan praat in my stoorkamer.”
“Nee, Juffrou. Ek kan dit nie meer vat om agter geslote deure te praat
nie.”
“Nou ja, toe, wat stel jy dan voor?” Ek besef ek speel op oom Nicklaas se
voorstoep, maar ek voel nes Katrien. Ek maak my klas se deur toe en wys vir die
leerders om sagter te praat. “Julle, kom ons bespreek die kwessie soos
rasionele mense.”
“Wat help dit ons bespreek dit, Juffrou?” vra Johan.
“Dit help om daaroor te praat sodat ons van ons frustrasies kan ontslae
raak,” antwoord ek.
“Maar om net te praat en niks daaromtrent te doen nie, is ook frustrerend,
Juffrou,” kla Katrien terwyl sy haar tafel met haar vuis slaan.
“Katrien, dit gaan nie help om jou humeur te verloor nie. Ek verstaan jou
frustrasie, maar ons moet rasioneel wees. Want wat help dit om ’n bohaai op te
skop en al wat gebeur, is dat jy huis toe gestuur word?” Ek haal diep asem en
probeer weer. “Kom sien my asseblief eerste pouse, nou moet ons op ons werk
fokus.”
Katrien het my inderdaad gedurende
die eerste pouse kom sien. Vir die eerste keer in my lewe het ek ’n kind in my
vertroue geneem. Ek kon nie meer “die juffrou vs. die kind” wees nie. Ons voel
dan dieselfde oor die situasie. Ons plan van aksie was soos volg: Ons kan
onsself nie openlik verset nie. Ons moet strategies te werk gaan en uitvind wie
ook soos ons voel.
Ek het nooit uitgevind wat ons gaan doen as ons dít eers weet nie,
want ek is die volgende dag ingeroep na Agent 1 se kantoor. Iemand het my
verkla van aanhitsergedrag en dat ek ’n raakvraat-pedofiel is.
“Mevrou – h’m – ons is bewus daarvan dat jy saam met minderjarige kinders
in jou stoorkamer gaan en aan hulle raak,” laat hoor Agent 1 met sy bromstem.
Ek gaap hom aan. “Wat? Dis nie hoegenaamd soos jy dit laat klink nie, ek
weet nie waar hierdie aantyging vandaan kom nie! Ek het nog nooit aan enige kind
’gevat’ soos jy dit laat klink nie.” Trane brand agter my oë.
“Soos ek dit laat klink? ’n Hele aantal leerders het by ons kom kla dat jy
hulle gereeld na die stoorkamer neem en druk.”
Ek snak na asem. Tegnies is dit waar, maar ek het nog nooit ’n kind
onbehoorlik “aangeraak” of “betas” nie, ek ondersteun hulle bloot met ’n
drukkie. Nie een kind in my stoor was daar onder protes nie. Elkeen het deur ’n
emosionele krisis gegaan en het ondersteuning nodig gehad. Nou word ek
bestempel as ’n “raakvraat-pedofiel” omdat ek aan hulle geraak het.
Agent 1 en die
skoolhoof het my opsies baie duidelik uitgespel:
1. Ek word
aangekla deur die skoolbestuur en die onderwysdepartement.
2. Ek
bedank en die aanklag verdwyn.
Die
onregverdigheid en onbillikheid van dit alles het my oor die rand gedryf. Ek is
daardie selfde middag opgeneem. Dit het nie my saak by die skool verbeter nie.
Hulle het aangevoer dat hulle my moes laat gaan, dat ek nie meer die druk van
skoolgee kon hanteer nie.
Die “druk” van skoolgee.
Die woordspel verstom my steeds. Amper meer as die stempel van rigiditeit wat
tans op leerder én onderwyser afgedruk word. En tog was my pogings nie verniet nie. Ander
het in my spore gevolg. Ek was nie die laaste onderwyser wat geforseer was om
te bedank nie. Waar dit sal eindig, weet ek nog nie, maar iets het onder die
druk begin roer.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking