Woestynman van my verlede
Dit
het alles op ‘n winderige Augustus-middag begin. Dit was op dié oomblik wat my lewe vir ewig
sou verander. Hoe sou ek kon raai dat
dinge so kon uitdraai? Hy het laat weet
dat ek hom by die rivier moet ontmoet…nogal onder ons boom. Ons wilgerboom met die swaai wat ons nog saam
opgesit het. Ek onthou daardie dag soos
gister.
Hy het
my gewys hoe om die tou te vleg, soos ‘n wafferse matroos wat lankal sy
seëvoete gevind het. Die houtplankie het
nog geruik na vernis – drie lae om die hout vir ewig te bewaar. En dan natuurlik om steekse splinters net
daar ook die nek in te slaan. Dit het
ons omtrent twee ure geneem om die swaai op te sit…hy was pure heer en het
daarop aangedring om die boom self te klim, ten spite van sy hoogtevrees. Dit was ‘n pragswaai wat so sterk in die
winderige weer sy man gestaan het.
Terwyl
ek vir hom gewag het, het ek op ons swaai gaan sit en ritmies teen oupaklok-slae
geswaai. Ek kon die wind oor my wange
voel streel terwyl ek heen en weer geswaai het.
Hoe hoër ek geswaai het, hoe vryer het ek gevoel; soos ‘n voël wat op
die vlerke van die wind sweef. Ek besef
dat ek huil en dwing die swaai tot stilstand.
Ek het afgeklim en op die kombers soetgras gaan sit met my arms om my
bene gevou. Die herinnerige is
oorweldigend – die snikke het deur my lyf geruk soos die skote van lood wat
deur sy teiken dryf. Hy het my dié dag
styf in sy arms toegevou en my rukkende lyf probeer kalmeer.
Ek het
op dié einste swaai gesit. Hy het teen
die wilger geleun. Ek kon sien iets pla
hom, dis asof hy ‘n innerlike stryd met homself gevoer het. Hy het onbewustelik in die niet uit gestaar
en op sy onderlip gebyt. Dit was
duidelik dat iets hom pla. Toe hy na my
opkyk, het ek die trane in sy woestynoë sien vorm. Ek was diep getref deur sy trane. Ek het ook groot geskrik, want hy is die
tipiese boerseun wat glo dat trane net vir sissies is. Die trane het vrylik oor sy wange gevloei –
dis toe dat my keel begin toetrek. Hy
het soos ‘n weerlose seuntjie gelyk. Toe
hy sy mond oopmaak, kon ek nie verstaan nie.
Ek wou nie verstaan nie. Ek kon
sien dat hy doodernstig was. Hy moes
weggaan. Ek wou weet hoekom hy moes
gaan. Hy kon nie net gaan nie. Ons het net die vorige week gepraat van vas
uitgaan. Hy wou nie redes gee nie, net
dat hy moes gaan en hy het belowe hy sou skryf.
Ek het
met my rug teen die wilger geleun, daar waar hy destyds geleun het. Ek het in my handsak rondgekrap en op die
enigste skaflike ding afgekom wat my trane sou help opdroog…ek het gedink ek
het dit verloor, maar ek het nie. Ek het
die sakdoekie, wat hy uit die liefde van sy hart gemaak het, teen my wang
gedruk. Ek kon nie help om te glimlag
nie.
Die
sakdoekie was ‘n liefdesgebaar. Dit en
die speelgoedboksie wat ek gemaak het.
Ons het besluit om elkeen iets vir die ander een te maak, maar ons moes
maak wat die ander persoon wou gehad het.
Ek wou
‘n sakdoekie en hy ‘n speelgoedboksie hê.
Min het hy geweet dat my pa my van kleinsaf met die houtwerk-kamer
vertroud gemaak het. Die verbasing op sy
gesig toe ek vir hom die donker gevlekte boksie met fluweel-uitvoering en
opligdekseltjie gee. Hy het baie verleë
sy handewerk vir my gewys. Dit was
terselfdertyd ‘n pragtige en afskuwelike stuk blou-lappie met stikwerk wat die
materiaal skeefgetrek het. Hy wou dit
dan en daar weggooi, maar ek het dit by hom gevat en belowe dat ek dit vir
altyd naby my sal bewaar. Tot vandag
toe. Ek kan nie glo hierdie handsak het
vir jare net in my kas gelê nie.
Die
son sit al hoog en steeds het hy nie opgedaag nie. ‘n Beweging aan my linkerkant vang my
oog. ‘n Kleurvolle skoenlapper het op ‘n
veldblommetjie, skaars dertig sentimeter van my af gaan sit. Dit was prentjiemooi. Nog nooit in my lewe het ek die kleure van die reënboog so mooi sien lyk soos
in hierdie skoenlapper nie. Die reënboog
simboliseer die herinnering van ‘n belofte; God se belofte dat Hy nooit weer
die vloed sal stuur nie. God het Sy
belofte gehou, maar nie hy nie. Die
belofte dat hy sou skryf, het nooit gebeur nie.
Sy belofte het soos die skoenlapper uit my lewe verdwyn. Hoe kon ek so dom gewees het!
Ek het
hom vertrou, hom geglo! Ek moes nooit
die simple mansmens geglo het nie. Dit
was moontlik die grootste fout van my lewe.
Hoeveel vloede het nie oor my wange gespoel nie, alles net vir hom en
vandag moet ek vaskyk in sy pragtige mond wat ‘n hoop leë beloftes gemaak het.
Hoekom
pla dit my so? Dis nie asof dit die
eerste keer is wat hy vir my jok nie…maar tog het ek die teendeel gehoop. Ek voel dat vandag as herontmoeting eintlik
sy verduideliking gaan wees. Ek voel hy
is my dit verskuldig. Gaan dit regtig
net oor die feit dat hy belowe het hy sou skryf en dit toe nooit gedoen het
nie? Of gaan dit juis daaroor dat hy
geloop het en my nie in die oë kon kyk en vertel hoekom hy moes weggaan
nie? Vandag sal ek weet. Natuurlik sodra hy besluit om op te daag.
Ek kan
nie onthou dat ek ooit vir hom moes wag nie…hy is immers ‘n baie stiptelike
boerseun, “’n familiekwaal” het hy altyd gespot. Hy het soms die afspraak net-net gemaak, maar
hy was nooit laat nie. Selfs met die
matriekafskeid. ‘n Familie krisis het
opgeduik. Ek sou regtig verstaan het as
hy nie saam kon gaan nie. Tog het hy
opgedaag, bietjie verwilderd en hartseer.
Al wat saak gemaak het, was dat hy wel opgedaag het.
Die
wind het weer begin waai. Ek vou my arms
styf om my lyf, dit help so effe vir die koue.
Ek probeer myself warm hou teen die protesterede watergolfies wat
rondgeslinger word soos die slap lyfie van ‘n lappop, vasgevang in ‘n
draaikolk. Ek het hoendervleis. Die wind kruip diep binne-in my are op, skeur
soos ‘n vlot deur my lewendgewende
vloedwaters. Dit dreig om my te
oorweldig, om my hart met ystergreep te verstrengel. Net so is die koue weg en
my hele wese besef dat die draaikolk weg van my gedraai word. Dit is die hitte in die woestyn-oë wat my van
binne warm maak, wat warmgloede opstuur na my wange.
Ek dag
eers dit is reën, maar besef dis warm druppels vanuit my hart wat hul weg
gevind het na my blou oogpoele. Ek huil
van vreugde. Ek word teen my woestynman
se bors gekoester. Dit voel soos gister
wat ek net so in sy arms was – so veilig en beskermd. Die tyd het vir ons stilgestaan – dit het
soos ‘n ewigheid gevoel voor hy my gelos het.
Die
trane het verdwyn waar hy veersag oor my wang gestreel het. Toe my oë oopgaan sien ek dat sy oë ook vol
emosies is met trane wat dreig om te vloei.
Tog is dit nie dieselfde woestyn-oë waarin ek tien jaar gelede opgekyk
het nie. Hy het oud geword. Die lagplooie om sy oë is nie meer so
duidelik sigbaar nie. Die vlam wat in sy
oë gebrand het al daardie jare terug is geblus.
Sy oë vertel ‘n ander storie.
Dit
vertel die storie waarvan ek nie die einde ken nie. Ek voel hy moet nóú verduidelik.
Hy wou my mos sien by ons plek.
Hoekom
staan hy net daar en kyk vir my? Hoekom
straal sy oë die hartseer wat ek oor sy lippe wil hoor? Hoekom praat hy nie met my nie?
Hy vat
my hand in syne en trek my af na die grond toe.
Hy wil hê ek moet sit. Sy lippe beweeg,
maar ek verstaan nie wat hy sê nie. Ek
hóór nie wat hy sê nie, baie dinge gebeur in ‘n tydperk van tien jaar. Net soos hy, het ék ook verander. So verskriklik verander. Destyds kon het hom nie hoor nie, nou wil ek
hom nie hoor nie.
Ek kul
myself dat ek nie hoor hoe jammer hy is oor hy net weggegaan het nie. Ek oortuig myself dat ek nie rede wil insien
vir sy situasie nie. Hoe kon hy net
weggaan en my stukkend laat lê het, sonder ‘n verduideliking?
Dit
voel onwerklik. Hy het regtig nie ‘n keuse
gehad nie. Om my te laat gaan was die
moeilikste ding wat hy nog ooit moes doen.
Hy was lief…is steeds lief vir my.
Ek besef dat ek steeds lief is vir hom.
Ek besef dat die verwerping en seer destyds oorskadu word deur die warm
gevoel in my hart. Dis asof my hart ‘n
kou is waaruit ‘n spierwit duif ontsnap.
Die
warm gloed in my hart versag die seer.
Maak dit draagliker omhom te hoor en myself ontvankliker te maak vir sy
verduideliking.
Hy was
destyds skaam om te erken dat sy ouers vreeslik baklei het. Hy was skaam om te erken dat hy vreesbevange
aande ervaar het. Hy was vreesbevange
dat ek anders nah om sou kyk as ek moes weet dat sy pa gearresteer was en dat
hy en sy ma na ‘n plek van veiligheid geneem moes word. Die plek van veiligheid was nie ‘n veilige
hawe vir hom nie. Hy kon nie sy ma ook
nog verloor nada thy so skielik van my af moes weggaan nie. Hy het in ‘n donker gat gesink, sonder hoop. Dit het hom vreeslik lank gevat om al die
stukke weer bymekaar te hark en weer sy hart te waag op iets so onaantasbaar
soos ek. Hy was bang ek het van hom
vergeet of dalk getrou met ‘n ander man.
So
kwaad as wat ek vir hierdie woestynman was, kon dit nie my liefde vir hom blus
nie. Onwetend het ek steeds vir hom
gewag. Onwetend gehoop dat ons weer
bymekaar sou uitkom. Ons het ‘n tweede
kans gekry.
Marelize Swanepoel
Begin
skryf in 2005
Verhaal
voltooi in Mei 2015